Dié kontrolelys is ’n instrument wat jou sal help om te ontdek wat jy moet weet om te bepaal of ’n uitgewer geskik is vir jou navorsing.
Hoe kan jy seker wees dat die vaktydskrif wat jy oorweeg die regte joernaal vir jou navorsing is?

Lê jy jou navorsing aan ’n betroubare vaktydskrif voor?
Is dit die regte vaktydskrif vir jou werk?
- Al meer navorsing word wêreldwyd gepubliseer.
- Nuwe uitgewers word weekliks bekendgestel.
- Baie navorsers is bekommerd oor plunderpublikasies.
- Dit is nogal uitdagend om die nuutste leiding te vind wanneer jy moet besluit waar om te publiseer.

Gebruik dié lys om te kyk of jou gekose vaktydskrif vertrou kan word.
Ken jy of jou kollegas die vaktydskrif?
- Het al voorheen enige artikels in die vaktydskrif gelees?
- Is dit maklik om die nuutste artikels in die vaktydskrif op te spoor?
- Die vaktydskrif se titel: Die naam is uniek en is nie dieselfde as of kan maklik met ’n ander vaktydskrif verwar word nie.
- Kan jy die inligting oor die vaktydskrif in die ISSN-portaal kruiskontroleer?
Kan jy die uitgewer maklik identifiseer en kontak?
- Word die uitgewer se naam duidelik op die vaktydskrif se webtuiste aangedui?
- Kan jy die uitgewer per telefoon, e-pos en pos bereik?
Is die vaktydskrif duidelik oor die tipe ewekniebeoordeling wat dit toepas?
- Meld die webtuiste of die proses onafhanklike/eksterne beoordelaars betrek, asook hoeveel beoordelaars per artikel?
- Bied die uitgewer ’n beoordeling deur ’n kundige redaksionele raad of deur navorsers in jou vakgebied?
- Die vaktydskrif waarborg nie aanvaarding of ’n baie kort ewekniebeoordelingstydperk nie.
Word artikels geïndekseer en/of in toegewyde dienste geargiveer?
- Word jou werk geïndekseer of geargiveer in ’n databasis wat maklik bereik kan word?
- Waarborg die uitgewer langtermynargivering en -bewaring van digitale publikasies?
- Gebruik die uitgewer permanente digitale identifikasie?
Is dit duidelik watter fooie gehef gaan word?
- Verduidelik die vaktydskrif se webtuiste waarvoor hierdie fooie is en wanneer dit gehef gaan word?
- Verduidelik die uitgewer op hul webtuiste hoe hulle finansieel ondersteun word?
- Noem hulle die geldeenheid en bedrag van enige fooie?
- Verduidelik die uitgewer se webtuiste of vrystellings beskikbaar is?
Word riglyne vir outeurs op die uitgewer se webtuiste gegee?
- Het die uitgewer ’n duidelike lisensiebeleid vir vaktydskrifte met ope toegang? Word uitsonderings toegelaat, afhangend van die outeur se behoeftes? Word lisensiebesonderhede by alle publikasies ingesluit?
- Laat die uitgewer jou toe om kopiereg op jou werk te behou? Kan jy jou werk byvoorbeeld via ’n institusionele bewaarplek deel, en onder watter voorwaardes?
- Het die uitgewer ’n duidelike beleid oor moontlike konflikte van belange vir outeurs, redakteurs en hersieners?
- Kan jy aandui in watter formaat jou artikel in beskikbaar gaan wees (byvoorbeeld HTML, XML, PDF)?
- Voorsien die vaktydskrif enige inligting oor gebruiks- of aanhalingsmetrika?
Is die uitgewer lid van ’n erkende industrie-inisiatief?
- Is hulle ’n dienende lid van die Committee in Publication Ethics (COPE), en volg dit die COPE-riglyne?
- Indien die vaktydskrif ope toegang bied, word dit op die Directory of Open Access Journals (DOAJ) gelys?
- As die uitgewer ’n opetoegangkeuse bied, is dit ’n dienende lid van die Open Access Scholarly Publishers’ Association (OASPA)?
- Word die vaktydskrif op een van INASP se Journals Online-platforms (vir vaktydskrifte wat in Bangladesj, Nepal, Sri Lanka, Sentraal-Amerika en Mongolië gepubliseer word), of op African Journals Online (AJOL, vir vaktydskrifte van Afrika) beskikbaar gestel?
- As die vaktydskrif ope toegang bied, word dit op Scielo (vir Latyns-Amerikaanse wetenskaplike vaktydskrifte) beskikbaar gestel?
- As die vaktydskrif ope toegang bied, word dit op Latindex (vir vaktydskrifte wat in Latyns-Amerika, die Karibiese Eilande, Spanje en Portugal gepubliseer word) geïndekseer?
- As die vaktydskrif ope toegang bied, word dit op Redalyc (vir vaktydskrifte wat in Latyns-Amerika, die Karibiese Eilande, Spanje en Portugal gepubliseer word) geïndekseer?
- Is die uitgewer ’n lid van ’n ander handelsvereniging?
As jy die meeste of selfs al die items in die kontrolelys kon afmerk:

Voltooi die kontrolelys en dien jou manuskrip in slegs as jy “ja” op die meeste of selfs al die vrae hier bo kon antwoord.
Ons bedank George F. de Bruin, wat hierdie vertaling in Oktober 2024 gedoen het.
Dié weergawe van die kontrolelys vir Engelse vaktydskrifte kan verander. Omdat die Engelse kontrolelys deur vrywilligers vertaal word, kan dit tot verskille tussen die Engels en die teikentaal lei.